Nuwe data toon dat die SAPD agteruitgaan, en dit wil voorkom of die regering dit nie as ‘n prioriteit sien om dié probleem aan te spreek nie, het die DA Dinsdag gesê.
“Antwoorde op ‘n klomp parlementêre vrae het getoon dat gevalle van verlore en gesteelde polisiedossiere met 57% vermeerder het en dat ophopings van gevalle by forensiese laboratoriums met 105% verhoog het,” het Dianne Kohler-Barnard, woordvoerder vir die DA gesê.
Nathi Mthethwa, die nasionale minister van polisie, het ‘n geskrewe vraag aangaande die Valke beantwoord en getoon dat slegs vyf persent van die Valke se werknemers gekeur is.
Sowat 2187 werkers het aansoeke ingedien maar slegs 118 het tot dusver goedkeuring gekry. Teen hierdie tempo, van 24 per maand, sal dit 7 jaar neem om al die aansoeke te keur.
“Terwyl Suid-Afrika se misdaadsyfers vererger kan ons nie toelaat dat administratiewe ondoeltreffendheid ons veiligheid nog verder in gedrang bring nie,” het Kohler-Barnard gesê.
Die polisie se inskiklikheid met die vereistes van die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) het met 10% gedaal.
Die ODK het verlede jaar 1212 voorstelle aan die SAPD gemaak en daar is op 90% daarvan nie gereageer nie.
“Verlede jaar het die samewerking op 58.1% gestaan, wat beteken dat ‘n situasie wat klaar swak was nog verder vererger het,” sê die DA.
Volgens Kohler-Barnard is dit duidelik dat die ANC-regering dit nie as ‘n prioriteit sien om dié probleem aan te spreek nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.