Die department van binnelandse sake het geen idee hoeveel onwettige immigrante in die land is nie.
Minister Nkosazana Dlamini-Zuma het verlede week by ‘n parlementêre mediakonferensie gesê om ‘n syfer te gee is “moeilik”.
Nadat sy gevra is om haar departement se jongste beraming van die aantal onwettige mense wat in Suid-Afrika woon en werk te gee, het sy gesê: “Ek weet nie. As iemand onwettig hier is, hoe weet ek hulle is hier? Ek weet nie, dit is ‘n eerlike antwoord.”
Die SAPS sê in hulle 2008/09 jaarverslag dat daar soveel as 6 miljoen “ongedokumenteerde” buitelanders in Suid-Afrika kan wees.
“Volgens verskeie beramings wissel die aantal ongedokumenteerde immigrante in Suid-Afrika tussen 3 en 6 miljoen mense,” lui die jaarverslag.
Die polisie sê voorts dat die meeste van hierdie onwettige immigrante waarskynlik “tot die ekonomies aktiewe ouderdomsgroep behoort, sowel as die misdaadrisiko ouderdomsgroep”.
Toe sy gevra is om te bevestig of haar departement “absoluut geen raming” van die aantal onwettige immigrante het nie, het Dlamini-Zuma geantwoord dat die enigste syfers tot haar beskikking dié van asielsoekers is.
“Wat ek julle kan vertel is dat daar [verlede jaar] sowat 110 000 aansoeke om asiel was. Net 10 000 is toegelaat as werklike gevalle en aan hulle is vlugtelingstatus toegestaan.
“Die res moes of gedeporteer gewees het, of vrywillig gegaan het… Maar diegene wat by ons kantore opdaag, vir asiel of permitte of enige iets, dis baie moeilik om ‘n syfer te gee daarvan,” het Dlamini-Zuma gesê.
Volgens die Suid-Afrika Jaarboek, ‘n kommunikasie- en inligtingstelselpublikasie, is Dlamini-Zuma se departement verantwoordelik vir die “opspoor en verwydering van buitelanders wat onwenslik is of wat onwettig in Suid-Afrika verkeer”.
