Die Verenigde Nasies (VN) het Dinsdag gedurende hul algemene vergadering 18 Julie as die “Internasionale Nelson Mandela-dag” verklaar om erkenning te gee aan sy bydrae tot vrede.
Die 192 lede van die wêreldliggaam het ‘n beroep gedoen op alle lande om vanaf 2010 Mandela se verjaardsdag (18 Julie) te herdenk en sodoende eer te bring aan die wenner van die Nobel-vredesprys en sy bydrae tot die oplossing van konflikte en die bewusmaking van rasseverhoudinge, menseregte en versoening.
Ali Treki, die president van die algemene vergadering, het gesê die internasionale gemeenskap spreek hul waardering vir ‘n “wonderlike man” uit wat vir sy medemens opgestaan het.
Mandela (91) word vandag opgehemel as ‘n internasionale ikoon en is daagliks nog glo gemoeid met menseregte en ander globale kwessies.
Laura Ross, ‘n Amerikaanse diplomaat, het gesê sy glo almal in hierdie wêreld is gelyk en sien ‘n “held en ‘n geesverwante genoot” in Mandela.
