Erektiele weefsel van hase wat suksesvol in ‘n laboratorium herstel is, kan dalk hoop bring aan mans wat sukkel met erektiele disfunksie.
Volgens kundiges in Amerika sal hierdie deurbraak deur navorsers aan Noord-Carolina se Wake Forest-universiteit nuwe hoop gee aan mans wat weens mediese toestande aan erektiele disfunksie ly.
Tydens hulle studie het navorsers gladde spierselle en endoteelselle, dieselfde tipe wat aan die binnekant van bloedselle gevind word, vanuit die hase se erektiele weefsel onttrek.
Hierna is dit in buise geplaas om te groei. Na ‘n kort tydperk is die nuwe selle in ‘n driedimensionele steier geplaas en weer in die dier se penis ingeplant. Sowat ‘n maand later het die nuwe weefsel begin vorm vat.
“Kort na hierdie proses het die hase se seksuele- en voortplantingsfunksies normaal begin funksioneer. Daar sal steeds verdere studies gedoen moet word, maar ons is baie opgewonde oor die moontlikhede wat hierdie studie bekendgemaak het,” het Anthony Atala, navorser aan die universiteit, gesê.
“Ons hoop dat pasiënte met veral geboorte defekte en kanker deur hierdie studie gehelp kan word,” het hy bygevoeg.
Die herstel of vervanging van beskadigde erektiele weefsel by mans was nog altyd ‘n probleem as gevolg van die unieke vorm en komplekse funksie daarvan.
Hierdie span navorsers was ook een van die eerstes om ‘n menslike orgaan in ‘n laboratorium te kweek.
