Jacob Maroga het Barbara Hogan, minister van openbare ondernemings, in ’n brief in kennis gestel dat hy homself steeds as die uitvoerende hoof van Eskom beskou, volgens Vytjie Mentor, voorsitter van die parlement se portefeulje-komitee rakende openbare ondernemings.
Nadat nuus Maandag bekend geraak het dat Godsell bedank het, het Mentor die brief bevestig. “Hy het gesê hy aanvaar volle beheer oor al sy verantwoordelikhede, insluitend om op die direksie te wees, hy sal die onderneming bestuur,” het Mentor gesê.
Intussen het die Black Management Forum Maandagmiddag reeds Godsell se bedanking en Maroga se terugkeer verwelkom.
“Ons spreek ons waardering uit dat hy bedank het. Dit was die regte ding,” het die organisasie se besturende direkteur, Gaba Tabane, gesê.
“Ons verwelkom dit ook dat Maroga terug is by die werk.”
Intussen het ekonome gesê Godsell se bedanking is ’n “groot terugslag” wat buitelandse beleggers wat vrese het oor politieke inmenging, kan afskrik.
“Dit wil voorkom asof die gesag van die direksie ondermyn word. Dit wil ook voorkom asof die korporatiewe bestuur by Eskom erg geskud is,” het Chris Hart, ekonoom van Investment Solutions, gesê.
“Die implikasie is dat daar politieke inmenging was, dit sal betreurenswaardig wees as dit die geval is,” het Ulrich Joubert, ekonoom van Kruger International, gesê.
“Dit sal ’n paar wenkbroue in die beleggingswêreld laat lig. Finansiële markte hou nie normaalweg van politieke inmenging nie,” het Joubert gesê.
Ayanda Shezi, woordvoerder van die departement van openbare ondernemings, kon nie teen 15:00 bevestig of die res van Eskom se direksie ook bedank het nie.
