Die seun van die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe, se verhoor vir bedrog en ander klagte, begin in Maart volgende jaar.
Die 27-jarige Hlophe jnr. het Donderdag sy finale verskyning in die Bellvillehandelshof gemaak.
Landdros Amrith Chabillal het gesê die verhoor sal op 29 Maart 2010 begin.
Sylvan Afica, staatsaanklaer, het aan die hof gesê onderhandelinge vir ’n pleitooreenkoms met Nazeer Ismail van die verdediging, het misluk.
Hlophe jnr. staan tereg op ses aanklagte van bedrog, drie vir die uitreiking (of voorlegging) van vervalste tjeks, drie van diefstal, een van regsverydeling en twee oortredings van die Wet op Identifikasie.
Luidens die klagstaat was hy die enigste lid van ‘n geslote korporasie wat as Moving Addresses handel gedryf het.
Hy het glo ‘n identiteitsdokument wat aan Siphesihle Ntombela behoort, vervals en haar foto met syne vervang.
Dié vervalste ID-boekie is toe gebruik om ‘n tjekrekening by Absa en FNB oop te maak.
Die eerste klag van bedrog is teen hom gemaak nadat hy glo sy ASBA-tjekboek gebruik om in September 2007 ‘n BMW 330i sedan ter waarde van R400,000 by Hendrik van den Berg te koop.
Dié motor is in ‘n ongeluk beskadig terwyl dit is sy besit was.
Die tweede aanklag volg ná hy dié motor by Auric BMW se Claremont-tak laat regmaak het. Dié rekening het R19,208 beloop en hy kon dit nie betaal nie.
Die derde aanklag van bedrog het gevolg nadat hy ‘n onbekende aantal borde ter waarde van R4070 by Davidson’s Boards, met ‘n foptjek gekoop het.
Nóg ‘n bedrogklag beweer dat hy probeer het om ‘n foptjek by Absa in Tableview te wissel.
Hlophe jnr. het ook glo sy vervalste ID en ‘n valse salarisstrokie gebruik om ‘n lening by Capitec Bank te kry.
Volgens die valse salarisstrokie het hy ‘n maandelikse salaris van R32,522 verdien.
Op die sesde aanklag van bedrog het hy glo ‘n niksvermoedende vriend, Luntu Magqaza, oorreed om R32,522 in sy (Magqaza) se bankrekening te betaal.
Op die drie aanklagte van diefstal het hy R5500 op 14 Oktober verlede jaar gesteel, ‘n verdere R2000 die volgende dag en R500 op 17 Oktober van Magqaza.
Hy het ook aan die polisie gesê sy naam is Ntombela.
Die klag van regsverydeling is toe teen hom aanhangig gemaak.
