Grondhervorming en die restitusiedoelwit om 30% van Suid-Afrika se landbougrond teen 2014 in swart besit te hê, is gereeld in die nuus en Cosatu en Julius Malema , voorsitter van die ANC-jeugliga, het hul opinies hieroor aan die BBC verduidelik.
Dit is reeds bekend dat die doelwit van 2014 na 2025 geskuif is en die grootste rede wat hiervoor voorgehou word is, is hoë plaaspryse, luidens ‘n berig in die Irish Times. Finansiële beperkinge, burokratiese sloerdery en die internasionale ekonomiese krisis word ook voorgehou as redes vir die huidige stand van sake.
[…]
Malema meen die Regering se gewillige koper en verkoper-benadering tot grondhervorming is onsuksesvol en grondeienaars moet ‘n ononderhandelbare aanbod van die Regering gebied word. “Ons sal betaal, maar net wat ons kan bekostig want hulle het dit in elke geval gesteel. Hulle het ons grond gesteel,” het hy aan die BBC gesê.
Cosatu-woordvoerder Patrick Craven sê die feit dat ‘n hele generasie sal verbygaan voordat restitusie werklik toegepas is, is nie goed genoeg nie. “Ons sit op ‘n sosiale tydbom. Die feit dat mense van landelike gebiede gedwing word om na plakkerskampe in stede te trek skep die soort spanning wat ons om kwessies soos dienslewering sien. Dit sal baie beter wees as hulle ‘n lewe in landelike gebiede kan maak. Die grootste rede waarom hulle nie kan nie is die feit dat grondeienaarskap in dié gebiede steeds ongebalanseerd is.”
Lees die volledige berig hier.
