President Barack Obama is net meer as nege maande in sy amp, maar hy het reeds meer houe ingekry as George W. Bush. Dit is nou gholfhoue. Want na nege maande het Obama Bush se besoeke aan ‘n gholfbaan byna oortref. Bush het in twee jaar nie soveel soos die eerste swart president gespeel nie.
Mark Knoller, van CBS, is ‘n nie-amptelike dokumenteerder en statistikus van alles wat met die Withuis te make het. Hy het Maandag op Twitter laat weet dat die nuwe president reeds soveel gespeel het as wat sy voorganger in twee jaar kon inpas.
“Vandag – Obama loop gelyk met Bush vir die aantal rondtes gholf wat in die amp gespeel is: 24.”
Die Twitterboodskap lui verder: “Dit het Bush 2 jaar en 10 maande geneem.”
Dié nuus kom kort nadat dit bekend geraak het dat Obama met ‘n vrou gholf gespeel het.
Melody Barnes, sy eerste vroulike gholfmaat, is die hoofbeleidsadviseur oor tuisaangeleenthede in die Withuis.
