VF+ eis Khompela se kop

“Die VF Plus verwerp met minagting die laakbare stellings van die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Sport, Butana Khompela, wat hy tydens gister se vergadering gemaak het asook die dreigemente teenoor die President van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF), Lamine Diack,” sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se Parlementêre woordvoerder oor Sport.

Volgens nuusberigte het Khompela gesê dat Diack eers om verskoning aan Caster Semenya moet vra vir die wyse waarop die IAAF haar behandel het alvorens hy Suid-Afrika binnekom en president Zuma besoek. Daarby het hy ook die volgende gewraakte stelling gemaak: “Let me tell you, we will go to that airport to receive this powerful president of a federation and things are not going to be very nice for him”.

“Hierdie absurde optrede van Khompela is in lyn met die gees van sy vorige onsinnige uitsprake waarvolgens hy gedreig het om Springbok-rugbyspelers se paspoorte in te trek indien die span nie swart genoeg is nie. Dit is nou duidelik dat Khompela nie bevoeg is om die voorsitter van die portefeuljekomitee oor Sport te wees nie en moet sy bedanking indien.

Sy uitsprake is emosioneel-belaaide retoriek wat niks bydra tot versoening in Suid-Afrika nie. Trouens, nie alleen is dit kontra-produktief nie, maar getuig van mense wat nie selfondersoek na hulle eie aandadigheid aan die krisis waarin hulle Caster Semenya gedompel het kan doen nie,” meen adv. Alberts.

“Daarom daag die VF Plus mnr. Khompela uit om die volgende vrae eerlik te beantwoord:

1. Het die portefeuljekomitee ASA se aandadigheid na hierdie aangeleentheid behoorlik ondersoek, spesifiek die persoonlike aandadigheid van die voorsitter, mnr. Leonard Chuene? Is hy nie met sy uitlatings besig om eerder die IAAF-president nou as die sondebok uit te sonder om die fokus van Chuene af te haal nie?

2. Wat presies bedoel mnr. Khompela as hy sê dat hulle mnr. Diack by die lughawe sal inwag en dat dit nie baie lekker vir hom sal wees nie? Maak hy dreigemente van aanranding en indien nie, besef hy dat hy die atmosfeer skep vir sodanige gebeurtenis?”

Die VF Plus beskou hierdie gebeurtenis in ‘n ernstige lig en sal selfs die saak verder opneem met President Zuma indien nodig. Suid-Afrika het alreeds ‘n tanende beeld in die buiteland en hierdie swak optrede van Khompela dra net by tot die uiteindelike isolasie van Suid-Afrika uit die wêreldgemeenskap.

21Фильчаков Александр Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae