Sokkerspelers in Duitsland is Woensdag gewaarsku dat hulle tydens volgende jaar se toernooi koeëlvastebaadjies in Suid-Afrika sal moet dra wanneer hulle van die hotel wegbeweeg.
Die hoof van die Leverkusen-gebasseerde sekuriteitsfirma BaySecur, wat na die Duitse Sokker Federasies (DFB) en hul gaste omsien wanneer die nasionale span in die buiteland speel, het gesê sterre soos Michael Ballack sal ekstra versigtig in Suid-Afrika moet wees.
BaySecur is een van die firmas wat na verwagting deur die sokkerfederasie ontplooi gaan word, terwyl die span aan die toernooi vanaf 11 Junie tot 11 Julie gaan deelneem, met die eindwedstryd wat in Johannesburg sal plaasvind.
“Die moontlikheid vir die spelers om buite die hotel se grense te beweeg, sal tot ‘n minimum gehou word,” het Guenter Schnelle van BaySecur aan die Duitse tydskrif Sport-Bild gesê.
“So nie, moet die span te alle tye vergesel word van sekuriteitsbeamptes, en daar moet ook koeëlvastebaadjies vir die spelers wees.”
Die DFB kyk reeds na moontlikhede om die veiligheid by die span se hotel in Pretoria te verskerp.
Volgens Helmut Spahn, sekuriteitsbaas by BaySecur, gaan hulle nog 20 ekstra sekuriteitswagte aanstel vir die span se verblyf by hul vyfster-woning.
“As gevolg van die hoë misdaadsyfer in die republiek wil ons geen kanse met sekuriteit of veiligheid neem nie.”
Private lyfwagte sal die spelers in en om die Velmore Grande hotel in Pretoria beskerm.
“Ons sal seker meer personeel as normaalweg gebruik,” het Spahn gesê. Hy gaan reeds volgende week vier dae in Suid-Afrika deurbring om na veiligheidsmaatreëls te kyk.
“Ons moet eers ‘n idee kry watter veiligheidsmaatreëls reeds in plek is, vir die spelers sowel as die media.”
“Ons sal dan daarna ‘n besluit maak of ons dit wil verbeter en of dit voldoende is.”
Volgens Spahn is die kanse klein dat die DFB slegs op plaaslike sekuriteitswagte in Suid-Afrika sal staatmaak. Hy sê Duitsland se federale polisie is reeds in gesprekke met die sokkervereniging oor dié kwessie.
