Die Kanadese minister van immigrasie, Jason Kenney, is in die hof om die uitgeweke Brandon Huntley se vlugtelingstatus te laat hersien.
Sy regsverteenwoordiger, John H Simms, het die federale hof gevra om die saak weer aan te hoor en die vorige uitslag nietig te verklaar.
“Die tribunaal het sy besluit op ‘n verkeerde feit gebaseer sonder om die materiaal voor hom in ag te neem,” het Simms gesê.
Huntley, 31, oorspronklik van Mowbray in die Kaap, het vlugtelingstatus in Kanada gekry nadat ’n Kanadese tribunaal beslis het Huntley was ’n slagoffer van misdaad weens sy ras.
William Davis, voorsitter van die Kanadese tribunaal wat aan hom vlugtelingstatus toegeken het, het bevind Huntley se vrees vir verdrukking deur swart Suid-Afrikaners is geregverdig.
Huntley het beweer hy is sewe keer aangeval en swart aanvallers het hom “wit hond”, “setlaar” en “boer” genoem. Dit het later aan die lig gekom dat hy nooit ’n klag by die polisie ingedien nie.
