Polisie soek nog na bewysstukke om die aspirant Zoeloekoning, prins Melizwe Dlamini, se bewerings dat daar op hom geskiet is by sy huis in La Lucia, te staaf.
“Ons ondersoek die saak en kan nie die moontlikheid dat die wagte dalk net klappers laat afgaan het uitskakel nie,” het supt. Vincent Mdunge gesê.
Volgens Mdunge is geen koeëlpatrone op die toneel gevind nie en is daar ook geen tekens van skade aan Dlamini se huis opgespoor nie.
Die voorval het na bewering verlede Woensdagnag plaasgevind.
Mshikashika Khambule van die Nhlangwinistam het tydens ‘n perskonferensie gesê dat menigte skote buite Dlamini se erf gevuur is maar dat die mure om die huis nie tydens die aanval beskadig is nie.
Khambule kon nie verduidelik hoekom daar nie skade aan dié strukture aangerig is nie. Hy sê niemand is tydens die aanval beseer nie en die voorval is die volgende dag aan die polisie aangemeld.
Khambule sê ook dat dit nodig is vir die regering om polisie buite Dlamini se huis aan te stel.
“Ons is baie bekommerd oor die aanval en voel dat ons koning beskerm moet word,” het hy gesê.
