Brasilië se president het Maandag belowe om dwelmhandelaars die stryd aan te sê na ‘n naweek van chaos waarin 21 mense in Rio de Janeiro dood is, slegs twee weke nadat die stad die bod vir die 2016 Olimpiese Spele gewen het.
“Ons sal alles doen wat nodig is en alle nodige opofferings maak sodat ons die gemors kan skoonmaak wat hierdie mense in Brasilië aanvang,” het president Luiz Inacio Lula da Silva aan verslaggewers in Sao Paulo gesê.
Polisie in Rio het gesê dat die dodetal van die naweek se gevegte tussen mededingende bendes van 14 na 21 gestyg het nadat nog lyke in die Morro dos Macacos (“Monkey Hill”) krotbuurt, waar die skietery ook ‘n polisie-helikopter afgeskiet het, gevind is.
Twee van die ses amptenare het Saterdag gesterf nadat die helikopter ‘n rukkerige landing op ‘n sokkerveld gemaak het. ‘n Derde amptenaar, wat ernstige brandwonde opgedoen het, het Maandag gesterf.
Volgens Silva gaan die regering meer befondsing aan staatsowerhede gee om die dwelmbendes teen te werk wat baie van Rio se 1000 agterbuurtes beheer.
Hulle gaan ook aan die polisie ‘n koeëlvaste helikopter gee.
Hy het niks genoem oor sekuriteitsmaatreëls vir die Olimpiese Spele nie, maar het wel gesê dat Brasilië weet dat “hulle tyd nodig het om die probleme van die bendes, georganiseerde misdaad en die dwelmhandelaars in Rio de Janeiro op te los.”
Ander Brasiliaanse amptenare het gesê dat die gebeure hulle voornemens versterk het om Rio ‘n veiliger plek te maak voor die Olimpiese Spele en voor 2014, wanneer Brasilië die Wêreldbeker Sokkertoernooi gaan aanbied.
