Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het meer as R250 000 bestee aan ’n partytjie om haar begrotingstoespraak in die parlement te vier.
George Boinamo, DA-woordvoerder vir onderwys, het aan Motshekga in die parlement gevra wat die geleentheid gekos het.
Die departement van onderwys het aangedui dat die viering R267 044 gekos het.
R50 000 van die bedrag is aan verversings bestee en R20 500 aan vermaak.
Die partytjie, wat deur 250 gaste bygewoon is, was vir die departemente van basiese onderwys en dié van hoër onderwys en opleiding gehou.
Motshekga en haar ampsgenote, Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, en die minister van polisie, Nathi Mthethwa, se weelderige ampsvoertuie het reeds die oë laat rek.
Motshekga se twee voertuie, ’n Range Rover Sport TDV8 en ’n BMW 730D, het die belastingbetaler R1,7 miljoen armer gelaat.
