Drie uit die vyf lede van die Nobelkomitee was aanvanklik daarteen gekant dat president Barack Obama die Nobelprys vir vrede ontvang, het die Noorse dagblad Verdens Gang, berig.
“VG het met ‘n aantal bronne gepraat wat bevestig het dat die meerderheid lede aanvanklik nie Obama wou benoem nie,” het die koerant gesê.
Die komitee, byeen geroep deur die parlement van Noorweë het Obama vereer vir sy “uitnemende pogings om internasionale diplomasie en samewerking tussen mense te bevorder”. Dít na slegs nege maande in sy amp.
Die komitee se besluit was eenparig, maar Inger-Marie Ytterhorn van die regsgesinde Proggressiewe Party, het egter Obama se vermoëns om sy beloftes te hou, in twyfel getrek.
Volgens die dagblad het Kaci Kullmann Five, die verteenwoordiger van die Konserwatiewe Party, sowel as Aagot Valle van die Sosialistiese Party, beswaar gemaak teen Obama se benoeming.
Five en Valle het egter agterna gesê dat hulle die komitee se besluit ondersteun.
