Eergister het die minister tydens ’n perskonferensie verklaar dat hy geen verband sien tussen misdaad en die Wêreldbekertoernooi van 2010 nie. “As daar ’n groot bedreiging is vir hierdie toernooi, vertel ons, want ons wil dit hanteer. Is daar ’n bom wat by die stadion sal afgaan?“
Jackie Selebi, omstrede polisiekommissaris, het by die minister aangesluit en opgemerk dat hy nie snags wakker lê “met 2010 op my voorkop nie.” Tydens dieselfde perskonferensie het Nqakula egter erken dat die toename in rooftogte “’n vernietigende impak het op die psige van die nasie” en het hy die gewelddadige aspek van misdaad as “ontstellend en onaanvaarbaar” bestempel.
