Dit is redelik veilig om te sê dat die aarde besig is om warmer te word. Wat wel pure raaiwerk is, is dat die aarde warmer word as gevolg van menslike aktiwiteit en spesifiek kweekhuisgasse wat deur menslike aktiwiteit vrygestel word. Mens hoor dikwels hoe die pole besig is om te smelt, maar in die tydperk van die dinosourusse was daar byvoorbeeld geen ys op die Noord- of Suidpool nie. Voorts stel vulkane sedert die begin van die geskiedenis miljoene tonne se kweekhuisgasse soos swaelstofdioksied vry.
Min mense sou probeer voorgee dat die bevolking in die Middeleeue groot koolstofdioksiedbesoedelaars was. Die nywerheidsrewolusie het eers in die negentiende eeu begin, en menere Benz en Diesel het hulle uitvindsels eers laat in daardie eeu gemaak. Tussen die agtste en die veertiende eeu nC was die noordelike halfrond egter besonder warm gewees. Druiwe en ander gewasse kon besonder ver noord verbou word. Die Wikinge kon die hedendaagse Kanada koloniseer omdat die see ysvry was. Oos-Afrika is geknel deur droogtes.
Weer eens: daar was geen motors of moderne fabrieke in die Middeleeue nie. Mense was nie te blameer vir die destydse tydperk van aardverwarming nie.
Ná 1300 het die klimaat egter weer begin kouer raak. Die ys het teruggekeer, en dele van die oseaan wat voorheen skeepsvaart toegelaat het, het weer begin vries. Vanaf 1550 het gletsers weer begin groei, in so ‘n mate dat dit as ‘n mini-ystydperk bekend staan. Gletsers het ganse dorpies in Switserland platgevee. Hierdie tydperk het in die middel van die negentiende eeu opgehou.
Wat het hierdie uiterstes veroorsaak? Daar is ‘n hele aantal oorsake, onder andere vulkaniese aktiwiteit en die feit dat die aarde se wentelbaan en rotasie nie heeltemal reëlmatig is nie, maar die belangrikste is die aktiwiteit van die aarde se hittebron, die son. Die son gaan deur fases waartydens hy meer en minder hitte uitstraal. Die aantal sonvlekke gaan deur kort en lang siklusse (tipies 11 jaar en honderde jare onderskeidelik.) Hoe meer sonvlekke, hoe warmer skyn die son. Op die oomblik is die son in ‘n aktiewe siklus. Daar is ‘n groot aantal sonvlekke. In die mini-ystydperk was die son besonder vry van sonvlekke.
Daardie elfjaarsiklus het ‘n duidelike invloed op die aarde se klimaat. Suid-Afrika ervaar sowat elke 11 jaar ‘n droogte juis as gevolg hiervan. 1983, 1994 en 2005 was relatiewe droë jare. Daar is ‘n baie sterk korrelasie tussen die sonvlekke en die aarde se verwarming, en ‘n baie swak korrelasie tussen menslike aktiwiteit en aardverwarming.
Waarom dus die histerie rondom sogenaamde kweekhuisgasse en aardverwarming? (Was dit terloops nie vir kweekhuisgasse nie, sou die gemiddelde temperatuur van die aarde -22 grade Celsius gewees het.)
Om dít te verstaan, moet mens die geopolitiek in ag neem. Watter lande beskik oor die meeste fossielbrandstowwe? Dis nie die Weste nie. Watter lande is tans die meeste op steenkool aangewese? Dis die Weste se groot mededingers in die een-en-twintigste eeu – ontwikkelende lande soos China en Indië. Uit hoofde van bostaande is dit duidelik in wie se belang dit sou wees om brandstowwe soos steenkool verbied te kry. Wenk: dis nie China of Suid-Afrika nie.
Voorts moet mens verstaan dat die instelling van ekstra belastings vir politici wat hul poste wil behou, ‘n moeilike saak is. Wys egter ‘n prentjie van ‘n ysbeer wat op die punt staan om te verdrink, en die Westerse belastingbetaler is veel meer geneë om ‘n paar dollars of euro’s ekstra te betaal vir sy brandstof, sy huis se verhitting of vir sy motor. Hierdie ekstra belasting staan in die Weste bekend as die sogenaamde “carbon tax”. In wie se belang is addisionele belasting? Dis beslis nie die verbruiker s’n nie, maar eerder die parasitiese regerings wat hierby baat vind. Siende dat baie navorsers en universiteite deur die staat befonds word, moet dus nie verbaas wees as daar weinig akademici is wat bereid is om protes aan te teken teen die ortodoksie van aardverwarming agv menslike aktiwiteit nie.
Hoe meer regerings in die Weste die histerie rondom aardverwarming kan aanblaas, en dit op menslike koolstofdioksiedvrystelling kan blameer, hoe beter vir die Westerse heersersklas. As Europese verbruikers nie Chinese ware wil koop nie, omdat die Chinese steenkool gebruik, wie vind daarby baat? Dit is Europese nywerhede en hul aandeelhouers soos die banke en privaatbeleggers. As die Amerikaanse verbruiker ‘n koolstofbelasting moet betaal vir elke kilometer wat hy in sy motor ry, wie baat daarby? Dit is duidelik die staat. As Duitse nywerhede windturbines kan bou in plaas daarvan om gas uit Rusland te moet invoer, is dit goed vir die Duitse ekonomie en vir sy belastingkoffers. Dus: as jy ‘n Westerse regering of privaatstigting is, gaan jy logieserwys geld wil skenk aan ‘n navorsingsinstansie wat beaam dat daardie bose Chinese se gebruik van steenkool die oorsaak van die probleem is.
Ek betwis hiermee geensins die feit dat dit ‘n goeie plan is om ons omgewing minder te besoedel nie. Wie is nie ten gunste van skoner lug en helderder drinkwater nie? Ek is egter geweldig skepties oor die histerie en ganse industrie van gevestigde belangegroepe wat rondom aardverwarming ontstaan het.
