Nobelkomitee se keuse laat gehoor na hul asems snak

Thorbjorn Jagland, die nuwe voorsitter van die Noorweegse Nobelpryskomitee en vorige Noorweegse premier, sê daar was 205 name op die lys waaruit Barack Obama gekies is vir die Nobelvredesprys.

Nelson Mandela het voorheen die toekenning ontvang, alhoewel die misdaadsituasie in Suid-Afrika drasties versleg het tydens en na sy bewind.

“Dis belangrik vir die komitee om mense te eer wat ‘n stryd voer en idealisties is,” het Jagland in ‘n onderhoud gesê, “maar ons kan dit nie elke jaar doen nie. Ons moet van tyd tot tyd in die sfeer van realpolitiek beweeg. Dit is altyd ‘n mengsel van idealisme en realpolitiek wat die wêreld kan verander.”

Jagland, 58, se kantoormure is versier met afbeeldings van Vredespryswenners wat al sedert 1901 aangewys word. Drie vorige Amerikaanse presidente, naamlik Theodore Roosevelt, Woodrow Wilson en Jimmy Carter pryk daar.

Maar die prys aan Obama, wat die VSA tans in twee oorloë lei en nog nie eens ‘n jaar aan die stuur van sy land nie, is ‘n verrassing.

Verskeie waarnemers in Oslo het gesê die toekenning vir 2009 kaats ‘n skadu oor die integriteit van die prys.

Maar Jagland is ongeërg daaroor en sê die wêreldklimaat het verander sedert Obama aan bewind gekom het. Die risiko dat die VSA dieper in die oorlog in Afghanistan ingetrek word bekommer die voorsitter nie.

“‘n Mens kan sê Barack Obama wil graag die wêreld verander soos die twee persoonlikhede [Willy Brandt en Mikhail Gorbatsjof] wat Europa verander het.”

Geir Lundestad, uitvoerende direkteur van die Nobelinstituut, het gesê hulle “is baie optimisties dat die keuse ‘n sukses en die hoogtepunt in ons geskiedenis sal wees” ten spyte van die kritiek dat Obama homself nog geensins bewys het nie.

Op ‘n vraag of dit nie naïef van die Nobelpryskomitee was om die toekenning aan Obama te maak nie, het Jagland gesê: “Wat daarvan?”

Die prys is onder meer toegeken aan die Amerikaanse president vir sy aandeel in die vermindering van kernwapens.

“Hy het ‘n nuwe internasionale klimaat geskep.”

Die nuus het waarnemers in Oslo by die geleentheid geskok waar die gehoor hoorbaar na hulle asems gesnak het.

Washington het ook hulle verbasing te kenne gegee.

President Obama het te midde van gerugte dat hy dalk die prys gaan weier, die Nobelkomitee Vrydag bedank vir die toekenning en daarmee alle spekulasie oor ‘n moontlike weiering beëindig.

Die prys sal op 10 Desember in Oslo oorhandig word en die Withuis het aangedui dat pres. Obama die geleentheid sal bywoon.

Die verleentheid was sigbaar in die Withuis waar geen opgeruimde stemming geheers het nie en ‘n vloedgolf van gelukwensinge uitgebly het. Die Withuiswoordvoerder wou nie uitbrei oor die president se werklike reaksie nie en het slegs gesê hy was “baie verbaas”.

Behalwe die twee oorloë waarmee Obama opgesaal is, het Noord-Korea in openlike verset missiele getoets en Iran se kernprogram is volgens kenners nog steeds op dreef.

Obama het enkele ure ná die Noord-Koreaanse toets ‘n “wêreld sonder kernwapens” belowe.

Op die tuisfront gaan Obama sukkel met gesondheidsorghervorming, die Amerikaanse ekonomie se slakkepas en ondersteuning vir die oorlog in Afghanistan

Obama sal ook nie tuis onthou word vir werkskepping, fiskale verantwoordelikheid of retoriek wat met aksie opgevolg word nie.

Hy het verlede Vrydag Chicago se bod om die Olimpiese Spele aan te bied in Kopenhagen verloor, wat een van sy eie raadgewers laat opmerk het dat “Oslo Kopenhagen gewen het”.

 

отвод выхлопных газовАлександр Фильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae