Die departement van verdediging in Afghanistan sê Afghaanse en Amerikaanse magte het beslaggelê op sowat 50 ton opium tydens ‘n dwelmklopjag in die suide van dié land.
Die departement het Donderdag gesê die vonds is Woensdag gemaak en daar is ook op sowat 2 ton heroïne asook plofstof en ammunisie beslaggelê.
Die dwelms, wat sowat $5 miljoen werd is, is verbrand.
Afghanistan is die grootse opiumvervaardiger in die wêreld en dié onwettige dwelmhande is ‘n groot bron van inkomste vir die Taliban en ander rebellegroepe.
Veldtogte om beslag te lê op opium, hasjisj en sade of ander materiaal wat gebruik word om dié dwelms te vervaardig, word gereeld in die suide van Afganistan gedoen, maar 50 ton opium in een vonds is ‘n groot deurbraak.
