Tozi Gwanya, direkteur-generaal van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het Donderdag op Agri SA se kongres in Mulderdrift aan die Wes-Rand gesê Afrikanerboere moenie die land verlaat nie.
Die inleiding van sy toespraak was in Afrikaans.
’n Groep Afrikanerboere is onlangs deur die Demokratiese Republiek van die Kongo, DRK, genooi om in die landboubedryf daar betrokke te raak, en die minister het ‘n versoek aan sulke boere gerig om te bly.
“Ons pleidooi aan Afrikanerboere is dat hulle hier moet bly. Ons kan baie by julle leer,” het Gwanya gesê.
“Julle hoort ook hier, want julle voorvaders is hier begrawe.”
Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, wat ook die kongres sou bywoon, was nie teenwoordig nie.
Gwanya het gesê wat grondhervorming betref het al die belanghebbendes, soos grondeienaars, ‘n rol om te speel in die proses.
Hy het georganiseerde landbou gevra om met voorstelle te kom oor hoe om grondherverdeling te bestuur.
“Net soos ’n lekker sny varsgebakte brood botter nodig het, so het ons mekaar nodig om van landelike ontwikkeling en grondhervorming ’n sukses te maak,” het Gwanya in Afrikaans gesê.
Gwanya, het ook aan die nuusagentskap Reuters gesê die omstrede Onteieningswet gaan weer in die parlement ter tafel gelê word.
