
Gewonder waar is die betogers by die G20-spitsberaad wat in September in Pittsburgh, in die VSA, gehou is?
Wel, die Langafstand Akoestiesetoestel het hulle weggehou van die byeenkoms van die wêreld se belangrikste staatshoofde.
Amerikaanse owerhede het die toestel vir die eerste keer op die skare in Pittsburgh gebruik en hulle dmv ‘n hoë klank wat afstoot, afgeskrik.
Robert Putnam, woordvoerder vir die vervaardiger in San Diego, American Technology Corp., sê dit is soos ‘n “reuse klanksoeklig” wat op die skare geskyn kan word.
Burgerregtegroepe is egter ontstoke en sê die klanktoestel hou gevare in. ‘n Meter of wat van die toestel meet die volume tussen 140 en 150 desibels.
Die betogers wat dit gehoor het, sê dit is verskriklik. Die harde bevele klink asof dit van oral kom en is helder en duidelik en die hoë klank daarmee saam, is ondraaglik.
Joel Kupferman, ‘n regswaarnemer van die National Lawyer’s Guild wat die optog gevolg het, sê hy is deur die klank oorweldig.
Hy sê die owerhede het aangehou om die mense te bombardeer met die wapen, selfs toe hulle uitmekaar begin gaan het.
Witold “Vic” Walczak, regsdirekteur van die American Civil Liberties Union in Pennsylvanië, sê die toestel is ‘n militêre wapen wat permanente gehoorskade kan veroorsaak. Hy het bygevoeg dat die owerhede ‘n klag van “buitensporige geweld” in die gesig staar.
“Jy moet jou hande oor jou ore hou en hulle toedruk, en dis moeilik om goed te gooi,” het die adjunk-direkteur van die stad se nooddienste gesê.
Die polisie sê hulle het die toestel ingespan omdat die betogers met geweld gedreig het.
Hulle sê ook dat die meeste mense hulleself al aan harder musiek vir ‘n langer tydperk by rockkonserte blootgestel het.
Aktiviste betwyfel egter die ooreenkoms en sê hulle het nog nie gehore by rockkonserte sien vlug nie.
