Die Amerikaanse geheimediens het ‘n ondersoek ingestel na ‘n peiling wat op die gewilde netwerk Facebook gedoen is wat vra of president Barack Obama vermoor moet word.
Dié peiling is deur ‘n gebruiker gedoen.
Die stemlys, genaamd “Moet Obama vermoor word?”, is Maandag van die blad verwyder en volgens ‘n woordvoerder vir die geheimediens het hulle saam met Facebook gewerk om die peiling te verwyder.
Die geheimediens het ‘n ondersoek begin instel omdat enige vorm van dreigemente teen die president ‘n misdaad is.
Die opsies in die peiling was “ja”, “miskien”, “as hy my gesondheidsorg belemmer” en “nee”.
‘n Woordvoerder vir Facebook sê dié maatskappy weet nie wie die peiling begin het nie en ook nie wie gestem het nie.
Tot die peiling verwyder is het dit sowat 730 stemme gewerf maar die uitslae is nie bekend gemaak nie.
Kenners het gewaarsku teen die toenemende gewelddadige deklamasie teen Obama wat deur die president se nuut beplande gesondheidsplan aangespoor word.
