
Switserland het Libië ten sterkste veroordeel oor die aanhouding van twee van sy landsburgers. Die mense word al meer as ‘n week aangehou.
Switserland se minister van buitelandse sake het gesê hy is in kennis gestel dat Max Goeldi en Rachid Hamdani, albei sakemanne, ‘n week gelede in aanhouding geneem is, nadat Libië hulle vir ‘n “mediese ondersoek” gebel het.
Dié ministerie het gesê die mans se aanhouding is onaanvaarbaar.
Libië weerhou die mans sedert Julie 2008 om terug te keer na dié land uit beweerde wraak nadat Hannibal, Moeammar Ghaddafi se seun, en sy vrou in hegtenis geneem is nadat hulle glo twee bediendes by ‘n Geneefse hotel geslaan het.
Dié twee lande het verlede maand ooreengekom om ‘n onafhanklike paneel aan te stel om die in hegtenisname te ondersoek en moontlike vergoeding voor te stel.
