In sy eerste optrede voor die wêreldliggaam, het Libië se leier, Moeammar Ghadaffi Woensdag ‘n striemende aanval teen die Veiligheidsraad geloods en die VN daarvan beskuldig dat hulle nie ingegryp het om 65 oorloë wat sedert die stigitng in 1945 uitgebreek het, te verhoed nie.
Ghadaffi het ‘n oproep gedoen dat die Veiligheidsraad hervorm moet word en dat die vetoreg van die vyf permanente lede afgeskaf moet word of dat die liggaam uitgebrei word sodat bykomende lede meer verteenwoordigend kan wees.
“Dit moet nie die Veilgheidsraad genoem word nie, dit behoort die “Terreurraad” te heet,” het hy gesê.
Die lande met vetoreg, die VSA, Brittanje, China, Frankryk en Rusland, behandel kleiner lande soos “tweedeklas, veragtelike” lande het Ghadaffi gesê.
“Nou broers, is daar geen respek vir die VN, geen agting vir die Algemene Vergadering nie.” Hy uitgevaar teen die “ongelykheid” van VN-lidstate in blitssarsies Arabies.
Hy was in bruin Bedoeïenedrag geklee met sy yslike Afrika-borsspeld opgetooi. Hy het van tyd tot tyd sy swart beret gestreel en tydens die ander toesprake met sy rooi sakdoek gespeel, omring deur ‘n hele aantal raadgewers.
Sy toespraak het gevolg op dié van Barack Obama wat ook die Algemene Vergadering vir die eerste keer toegespreek het.
‘n Pouse van 15 minute het na afloop van Obama se toespraak gevolg sodat diplomate nuwe sitplekke kon inneem. Die VSA is deur lae- en middelrang diplomate verteenwoordig tydens Ghadaffi se optrede.
Minister van buitelandse sake Hillary Rodham Clinton en die VSA se ambassadeur Susan Rice het vertrek voordat Ghadaffi begin praat het.
Ghadaffi het nie veel van sy geel leêr met handgeskrewe notas of ‘n teksleser gebruik gemaak nie en meesal uit die vuis gepraat. Hy het Obama geprys as leier van die gasheerland vir die VN-hoofkwartier asook sy nuwelingstoespraak.
