Pakistan en Wes-Indiërs veg hard maar bereik min

Die Wes-Indiese krieketspan het gister nie baie lank gevat om die wip en spoed van die kolfblad op die Wanderers gewoond te raak nie, maar in die kort tydjie was die top ses kolwers – en nommer agt op die koop toe – reeds terug in die paviljoen.

Dié span is natuurlik aanmekaar gelap en is iets tussen ‘n B-span en ‘n jeugspan. Dit was juis dié gebrek aan ervaring wat sy tol geëis het. Aanvangkolwers Richards en Fletcher, het hulleself nie eintlik vermoei om die wip van die kolfblad en die aard van die boulaanval deur te kyk nie.  Die blad was lewendig en die jong snelbouler, Mohammad Aamer, nog meer so. Binne ‘n ommesientjie het hy die toporde ontwortel waarna die ouer Umar Gul sy voorbeeld gevol het en nóg drie paaltjies geneem het.

Hierna het Darren Sammy en Nikita Miller die oog ingespeel, en tot die skande van die topordekolwers, begin om die bal die veld vol te slaan. Miller, nommer 9 op die kolflys, het uiteindelik die span se hoogste telling van 57 gekry, maar selfs sy heldhaftigheid kon nie die Wes-Indiese debakel in ‘n skaflike telling verander nie.

Pakistan moes 135 lopies vir ‘n oorwinning insamel, maar met ewe onbesonne kolfwerk het hulle dit na ‘n formidabele teiken laat lyk. Die onbekende Gavin Tonge – wel, hulle is omtrent almal net aan hulle moeders bekend, het die Pakistanse toporde in skerwe gelaat met ‘n boulontleding van vier paaltjies vir 25 in tien boulbeurte.

Dit het naderhand nog ‘n jongeling, die pragmatiese Umar Akmal, in geselsskap met sy kaptein, Shahid Afridi, geverg om met ‘n spanninglose 41 lopies ‘n einde aan die malligheid te bring. Dié twee het die teiken in die 31ste boulbeurt gehaal.

Pakistan lyk allermins soos die span wat die 20-20 Wêreldbeker gewen het. Maar dis juis wanneer hulle soos ploerte lyk wat hulle eensklaps in ‘n onstuitbare span verander. Opponente sal in die komende wedstryde wel beraad wees om nie weer aan hierdie wedstryd te dink nie.

beaded tiarasФильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae