Militante magte in Nigerië sê hulle verleng ‘n skietstaking wat deur die nag verval het, met een maand, maar het gewaarsku hulle sal aanvalle hervat indien die grondoorsake van die konflik nie aangespreek word nie.
Die Beweging vir die Emansipasie van die Niger Delta (MEND) het ‘n tweemaandlange onderbreking van hulle veldtog om olie-installasies en om buitelanders te ontvoer, in Julie ingestel. Hulle het gesê hulle hoop die skietstaking sal gesprekke met die regering bespoedig.
Die groep sê gister in ‘n verklaring dat hulle nie ‘n amnestie-aanbod van die regering in ag neem nie en dat die regering “geen maatreëls getref het vir betekenisvolle dialoog nie.”
Hulle sê die regering moet die skietstakingverlenging gebruik “om die regte ding te doen eerder as om voor te gee dat hulle oor vrede onderhandel terwyl hulle die weermag bewapen vir ‘n oorlog wat hulle nie kan wen nie.”
