Dit is onrealisties om van ontwikkelende lande soos Suid-Afrika te verwag om kweekhuisgasdoelwitte te jaag vanweë hulle ekonomiese status, het die minister van omgewingsake, Buyelwa Sonjica, Dinsdag gesê.
Sy het die media in Kempton Park toegespreek. Sonjica sê die regering sal nie enige ooreenkoms teken wat die land se kanse ekonomiese ontwikkeling kan kortwiek by die klimaatsveranderingkongres wat eersdaags open nie.
"Ons weet ons is die sondebokke wat koolstof vrystel want ons wek energie op met steenkool… [maar] Suid-Afrika is 'n land met maatskaplike en sosio-ekonomiese kwessies. 'n Groot deel van ons bevolking is sonder elektrisiteit dus moet 'n mens al daardie kwessies in berekening neem voordat 'n mens van steenkool kan wegbeweeg," het sy gesê.
Daar moet 'n balans wees tussen hoe die land sy koolstofuitset hanteer terwyl daar ekonomiese ontwikkeling is.
"Die grootste uitdaging wat ons tans in die gesig staar is voldoende energievoorsiening en toegang wat ons ontwikkelingsimperatiewe nie negatief gaan raak nie, en om terselftertyd 'n pad van beperkte koolstofuitsette te loop."
Alhoewel die land graag koolstofuitset wil verminder, kan daar nie van Suid-Afrika verwag word om op dieselfde skaal as die VSA geplaas te word nie.
"Ons verwag werklik dat ontwikkelde lande soos die VSA die leiding sal neem en dappertoegewings sal maak, " het Sonjica gesê.
Die internasionale gemeenskap het ontwikkelende lande ook uitgesluit uit die doelwitte wat aan ontwikkelde lande gestel is.
"Die Internasionale Paneel vir Klimaatsverandering, die IPCC (International Panel of Climate Change), se verslag sê alhoewel ons 'n verantwoordelikheid het met die uitset van gasse, is ons verantwoordelikheid en vermoeë nie dieselfde nie."
Sonjica het gepraat voor die VN se beraad oor klimaatsverandering wat in Desember in Kopenhagen, Denemarke, gehou sal word.
Die minister hoop dat die beraad op 'n "ooreenkoms sal uitloop wat voordelig vir ontwikkelde sowel as ontwikkelende lande sal wees".
Van die aspekte wat die misnister hoop aangespreek sal word, is befondsing vir armer lande om die uitdagings van klimaatsverandering aan te spreek.
'Vir Suid-Afrika sal 'n suksesvolle uitkoms een wees wat inklusief, regverdig en effektief is… sukses in Kopenhagen sal klimaatsvriendelike ontwikkeling versterk en moet dringend die wêreld se armstes en mees kwesbares help om aan te pas."
Terwyl Suid-Afrika nog steeds in die proses is om te bereken hoeveel geld nodig sal wees om die uitdaging van klimaatsverandering te bowe te kom, sal lande in Afrika tussen $200 en $400 miljard nodig hê.
