Pres. Jacob Zuma het tydens sy rede by die opening van ’n landbouskou naby Harare, ’n beroep op pres. Robert Mugabe gedoen om landbouproduksie in Zimbabwe te herstel.
Dr. Ayanda Ntsaluba, direkteur-generaal van internasionale betrekkinge en samewerking, het ook intussen gesê Zimbabwe “het nie heeltemal voldoen” aan ’n SAOG-beslissing oor wit grondeienaarskap nie.
Dit is die eerste keer dat Suid-Afrika die regering van Zimbabwe openlik kritiseer vir die minagting van ’n hofbevel van 28 November verlede jaar wat bepaal dat 79 wit boere toegelaat moet word om te boer.
Onder die wit boere in Zimbabwe is ook talle Suid-Afrikaners.
Ntsaluba het ook gesê die kwessie met die inhuldiging van Roy Bennett as Zimbabwe se adjunkminister van landbou, asook die geskil om die poste van prokureur-generaal, goewerneur van die reserwebank en staatsgoewerneurs moet dringend opgelos word.
Bennett, MDC-amptenaar, wag nou reeds sewe maande om ingehuldig te word.
Wit boere word intussen steeds gewelddadig van hul plase gedwing en Saterdag is Ben Freeth se plaas Mount Carmel se huis in 'n brand vernietig.
’n Boervrou is voorts Saterdag op haar kleinhoewe wes van Harare vermoor terwyl haar man die rugbytoets tussen die Springbokke en die Wallabies op 'n naburige plaas gaan kyk het.
Die moord op die 75-jarige Sophie Hart was vermoedelik uit weerwraak gepleeg. Sy is verwurg deur haar man aangetref.
Freeth glo hy is volgende op die lys. Hy beweer Nathan Shamuyarira, Zanu-PF se inligtingshoof, wil hom van sy plaas dwing. “Ná hul moord op Sophie Hart is dit duidelik dat hierdie rampokkers my bloed ruik,” het Freeth gesê.
’n Handlanger van Shamuyarira, genaamd Landmine, het verlede jaar in ’n aanval op die gesin se huis gedreig om Freeth se drie jong kinders te eet, het Freeth vroeër aan Beeld gesê.
