Genl.maj. Chris van Zyl, ’n assistent-hoofbestuurder van TLU SA, het Woensdag op ’n eiendomsregkonferensie van dié landbou-organisasie in Pretoria gesê plaasaanvalle bedreig voedselsekuriteit in Suid-Afrika.
Dit neem tot agt jaar om die plaas van ’n vermoorde produktiewe boer weer op dieselfde vlak te kry as voor die noodlottige aanslag.
Van Zyl het gesê 1 127 mense het sedert 1993 in altesame 1 864 aangemelde plaasaanvalle gesterf.
Die wreedheid van die aanvalle het toegeneem, alhoewel daar die laaste tyd ’n effense afname in plaasaanvalle was.
“Die brutaliteit wat met plaasaanvalle in Suid-Afrika gepaardgaan, is ongekend op ander plekke in die wêreld. Daarom is dit vir my onverklaarbaar dat daar nie in die buiteland baie oor die plaasmoorde in Suid-Afrika berig word nie,” het Van Zyl gesê.
Vir elke plaasmoord wat in Suid-Afrika plaasvind, is daar 12 of 13 plaasaanvalle.
Meer boere, hoofsaaklik Afrikaners, is die afgelope 16 jaar in plaasmoorde dood as die aantal boere saam wat gedurende die destydse Mau-Mau-opstand in Kenia en die oorloë in Mosambiek, Rhodesië, Angola en Suidwes-Afrika gesneuwel het.
In weerwil van verbete anti-Afrikaanse propaganda wat die aanvalle wil toeskryf aan swak werksverhoudinge tussen eienaars en werkers, word 78% van die aanvalle uitgevoer deur vreemdelinge.
Die aanvallers is hoofsaaklik jong swart mans tussen die ouderdom van 22 en 28 jaar.
