Ermelo se uitsluiting ‘ongrondwetlik’

Die Hoërskool Ermelo se uitsluiting van nie-Afrikaanssprekende leerders is ongrondwetlik, het adv. Bantubonke Tokota, wat die departement van onderwys in Mpumalanga verteenwoordig, Donderdag gesê.

“Ons wil aanvoer dat die weiering van die skool se beheerliggaam om die taalbeleid van die skool te verander en om die skool se onderrigtaal Afrikaans te hou, ‘n direkte impak ingevolge Artikel 9 van die grondwet het.” 

Tokota het só aangevoer in ‘n aansoek om verlof tot appèl teen ‘n uitspraak wat in Maart deur die appèlhof ten gunste van die skool se beheerliggaam gemaak is.

Die appèlhof het in sy uitspraak gesê die beheerliggaam van die skool het die gesag om die skool se taalbeleid te bepaal, en dat die mag nie by die department van onderwys lê nie.

Tokota het Donderdag verder aangevoer dat die skool se taalbeleid heroorweeg moet word om die kinders se regte bo alles te stel.

“’n Afrikaanse taalbeleid wat deur die beheerliggaam van die skool goedgekeur is, dui daarop dat die beheerliggaam dié skool uitsluitlik vir Afrikaners wil bewaar.

“Dit dui op indirekte en direkte diskriminasie op grond van taal en dit lug uit die aard van die saak ‘n grondwetlike kwessie,” het Tokota gesê.

Hy het ook aangevoer dat die department van onderwys in Mpumalanga die gesag het om die funksie van die beheerliggaam te onttrek as daar oor die taalbeleid besluit moet word.

Die verhoor duur voort.

купить трансформерапрокурор Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae