Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK), sal die R6 miljard oor die volgende twee jaar direk beskikbaar gaan stel aan maatskappye wat wankel vanweë die resessie. Die ander bedrag gaan kom van die Nasionale Vaardigheidsfonds en die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF).
Die fondse sal gevul word met geld uit die sektorale opleidingsowerhede (setas) volgens Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling.
Hy het Woensdag tydens 'n mediakonferensie gesê: “Die idee is om werkers weer in diens te laat neem wanneer die krisis verby is.”
Die skema sal in September begin en tot 2011 voortduur.
Rob Davies, minister van handel en nywerheid, sal binnekort 'n aanduiding gee van die maatstawwe wat in die onderskeie sektore sal geld vir die beloofde hulp. Maatskappye wat swak sakepraktyke handhaaf sal nie in aanmerking kom vir hulp nie.
Die motorbedryf, klere-en-tekstiel en aansporings vir die vervaardiging van kapitaalgoedere wat vir infrastruktuur, is van die sektore wat vir hulp uitgesonder word.
