Die misdaadgolf in Johannesburg duur onverpoosd voort en dit is weereens duidelik dat die ANC-regering nie in staat is om die burgers van Suid-Afrika te beskerm nie. So sê Advokaat Anton Alberts, raadslid van die Vryheidsfront Plus in die Johannesburgse Metropolitaanse Raad, na aanleiding van die gewelddadige aanval op ‘n ma van drie jong dogters in Midrand gisteraand.
Volgens die Afrikaanse dagblad, Beeld, is Gillian Lindsell, gisteraand sinneloos deur die rug geskiet nadat sy deur huisrowers gedwing was om plat op die vloer te gaan lê. Sy is in die proses ernstig gewond aangesien die koeël deur haar rug getrek, van die vloer af geskram en weer deur haar liggaam beweeg het.
Adv. Alberts het benadruk dat die Vryheidsfront Plus kennis geneem het van die groeiende tendens van misdaad in Johannesburg en spreek sy erge afkeer daarteen uit, veral teen die neiging tot geweldsmisdaad waar inwoners op die wreedste wyses mishandel en verneder word.
Dit is volgens Alberts duidelik dat die SAPD en Johannesburgse Metropolisie nie teen die oormag en arrogansie van misdadigers opgewasse is nie. Boonop het adv. Alberts, wat self op sy dag polisiebeamptes in strafreg opgelei het, beklemtoon dat die veiligheidsmagte in Suid-Afrika gebrekkige opleiding kry en nie weet hoe om die strafreg en verwante kennisvelde toe te pas nie.
Hy het ook klem gelê op die rol van die Johannesburgse Metropolisie en dat dié eenheid voortaan meer klem moet lê op die polisiëring van geweldsmisdade en die vervolging van sindikate. Die Metropolisie is mede-verantwoordelik vir burgerlike beskerming in die stad van Johannesburg en sal daadwerklik moet plan maak om meer te doen as net spoedkaartjies te skryf en padblokkades te hou.
Terwyl padveiligheid van kardinale belang is, is dit nou duidelik dat daar ‘n oordrewe klem op dié tipe polisiëring val. Volgens adv. Alberts sal meer sigbare patrollies deur die Metropolisie baie doen om die SAPD se arms te sterk in die opdraande stryd teen die golf van misdaad. Die Vryheidsfront Plus sal hieraan aandag gee en die ANC tot antwoorde en verantwoording hieroor dwing tydens die volgende raadsvergadering in Augustus.
