Drie verkoop munisipale grond aan plakkers

Drie mans is Dinsdag in Roodepoort gearresteer nadat hulle na bewering grond wat aan die munisipaliteit behoort, aan krotbewoners verkoop het. Die Johannesburgse metropolisie het hulle vasgetrek.

Lede van die metropolisie het 20 nuwe krothuise in die Phepisonglokasie opgemerk volgens hoofsuperintendent Wayne Minnaar. Nadat hulle die inwoners konfronteer het, het dit geblyk dat die plakkers die grond van "Moloi and Partners" aangekoop het.

"Die maatskappy was nie geregistreer nie en sou ook nooit die transaksies kon beklink nie omdat die grond aan die munisipaliteit behoort," het Minaar gesê.

"Mense het tussen R7000 en R14 000 vir die grond betaal, afhangend van die grootte. Die plakkers wat om die bos gelei is, het selfs 'n aankoopkwitansie ontvang wat uiters legitiem gelyk het."

Klaarblyklik is die "maatskappy" al geruime tyd met die beweerde bedrogspul aan die gang, aangesien 'n aansienlike persentasie krotbewoners erwe van hulle "gekoop" het.

Drie van die mans is by hulle "kantore" in die lokasie in hegtenis geneem. Na verwagting sal hulle Woensdag voor die lanndros in Roodepoort verskyn.

evolution Лобановский Харьков

Maak 'n opvolg-bydrae