Die CIA-direkteur, Leon Panetta, het ná ’n toespraak vandeesweek in die kongres aan verslaggewers gesê om Bin Laden op te spoor is steeds een van die CIA se hoogste prioriteite.
“Een ding wat ons hoop, is dat ons ’n beter kans sal hê om by hom uit te kom terwyl die Pakistanse weermag saam met ons operasies inbeweeg,” het Panetta gesê.
Volgens die CIA het die getal amptenare en gewerfde agente, plaaslike inwoners wat inligting verskaf, in Pakistan toegeneem.
“Ons het ’n aantal mense op grondvlak in Pakistan wat help om teikens te verskaf en wat ons help om die inligting te kry wat ons regtig nodig het om Al-Kaïda te pak.”
In Islamabad het ’n woordvoerder vir president Asif Ali Zardari Panetta se bewerings verwerp en die CIA uitgedaag om enige bewyse om dit te staaf, te oorhandig.
“Daar is geen waarheid in hierdie CIA-verklaring nie. Dit is alles gerugte,” het Farhatullah Babar gesê.
“Sulke verklarings hou aan kom, maar as hulle weet hy is in Pakistan, dan moet hulle ook sy presiese ligging weet. As dit die geval is, hoekom deel hulle die inligting nie met Pakistan nie?” het hy met verwysing na Bin Laden gesê.
Panetta het intussen gesê die Pakistanse offensief in die Swatvallei vorder baie goed in vergelyking met Pakistan se vorige pogings om hard teen ekstremiste op te tree. Die Pakistanse weermag het gesê hy het meer as 1 300 militante in die offensief gedood en weer beheer oor die grootste deel van die streek oorgeneem.
Vorige offensiewe teen Islamitiese militante het dikwels gesneuwel. Die regering het dikwels eerder verkies om vredesooreenkomste met die ekstremiste te sluit. ’n Vredespakt in Swat het in April in duie gestort nadat die Taliban van daar na die nabygeleë Buner – 96 km van die hoofstad, Islamabad – beweeg het.
Panetta het gesê die CIA besef dat terwyl hy vordering in Pakistan maak, die leiers van Al Kaida hulle kan toespits op ander toevlugsoorde, soos Jemen en Somalië.
