Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die wêreldwye uitbraak van Mexikaanse griep Donderdag tot ’n pandemie verklaar. Ná ’n noodvergadering met lidlande het die WGO die waarskuwingsvlak vir die A (H1N1)-virus van vlak 5 na vlak 6 opgeskuif.
Dit is die eerste keer in 41 jaar dat ’n grieppandemie verklaar word. Die besluit is geneem nadat die virus wyd buite Mexiko en die VSA begin versprei het, veral in Australië.
Teen Woensdagmiddag was daar byna 28 000 bevestigde gevalle in 74 lande. Minstens 141 mense is al dood. Daar was 1 224 gevalle in Australië, 13 217 in die VSA en 5 717 in Mexiko. Geen gevalle is nog in Suid-Afrika verklaar nie, alhoewel mense vir die siekte getoets is.
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes in Suid-Afrika sê hulle ontvang gereeld monsters en daar is 'n uitgebreide netwerk van dokters wat die toestand dophou.
