Rapport het Sondag berig dat die skikkingsvoorstel heelwat beter is as die eerste bedrag en dat die president dit moontlik mag aanvaar. Mediaspesialis Liesl Göttert, wat Zuma se lastereise hanteer, het dit aan die koerant bevestig.
Zuma het die koerant se eerste aanbod van 10,000 pond, of sowat R128 000, van die hand gewys. Hy het die koerant verlede maand vir laster gedagvaar nadat die joernalis Simon Jenkins 'n artikel daarin die lig laat sien het met die titel "Get used to a corrupt and chaotic South Africa. But don't write it off".
Dit is op 6 Maart gepubliseer en Zuma is daarin beskryf as 'n "verkragter" en 'n "krimineel". Zuma was klaarblyklik "baie teleurgesteld" met die Guardian se daaropvolgende verskoning.
Göttert sê Zuma sal oor die naweek 'n besluit neem oor die nuwe aanbod.
In die verskoning wat die koerant op 21 April aangebied het, het hulle gesê hulle is jammer dat hulle gesuggereer het dat Zuma skuldig bevind is aan verkragting en gesê dit het gekom as gevolg van 'n "redigeerprobleem".
