MDC eis Mugabe-binnekring se koppe

 Die Zimbabwiese beweging vir demokratiese verandering (MDC) het gister die stadige pas van verandering betreur en geëis dat Gideon Gono, president van die reserwebank, en Johannes Tomana, prokureur-generaal, onmiddellik bedank.

In resolusies wat die party op sy jaarlikse konferensie aanvaar het, het die MDC ook gevra vir ’n streekberaad om verskille tussen Morgan Tsvangirai, sy leier en die premier, en pres. Robert Mugabe op te los omdat dit die eenheidsregering kniehalter.

Die MDC kritiseer al lank Mugabe se besluit om Gono as hoof van die reserwebank en Tomana as prokureur-generaal te behou.

Tsvangirai het die kwessie verlede week probeer ontlont deur te sê die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap moet oor hul toekoms besluit. Nietemin het die MDC in sy resolusies, voorgelees deur mnr. Tendai Biti, MDC-sekretaris-generaal en minister van finansies, gesê albei moet hul poste onmiddellik ontruim in die nasionale belang.

Gono word wyd gekritiseer omdat hy Zimbabwe se ekonomiese vryval en rekord-inflasie nie kon keer nie en Tomana weens politiek gedrewe vervolgings ná verlede jaar se betwiste presidentsverkiesing.

Tsvangirai het sterk teenstand in MDC-geledere gekry oor die magsdelingsooreenkoms wat hy in Februarie met Mugabe gesluit het. Die resolusie maak dit duidelik die party is ongelukkig oor wat konferensiegangers as ’n gebrek aan hervorming en voortgesette intimidasie van hul aanhangers deur pro-Mugabe-militante beskou.

Die party het gesê die regering moet iets doen aan die “stadige pas van media-hervorming, die stadige instelling van die 100 dae-plan, voortgesette ontplooiing van soldate in dorpe en die teenwoordigheid van militante en spookwerkers se name op die regering se salarisstaat”.

Tsvangirai het sy ondersteuners aan die einde van die konferensie probeer paai en gesê hy het nie van die party se oogmerke afstand gedoen nie. “Die oorgangsregering, ’n koalisieregering, is ’n stap na ’n nuwe en demokratiese Zimbabwe.”

Hy het wel sy teleurstelling oor vertragings met die instelling van die koalisie-ooreenkoms uitgespreek. “Ons is teleurgesteld oor die pas van die instelling van party van die kwessies in die omvattende politieke ooreenkoms.

“Die regering se agenda moet nie die party se agenda verwater nie. Ons moet erken kompromieë is waarskynlik, maar ons moet nie demobiliseer nie. Ons moet ons partystrukture bly versterk in voorbereiding van die verkiesing.”
оборудование для сто краснодарАлександр Фильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae