Ses deelstate in Duitsland het handelaars opdrag gegee om alle verkope van Red Bull Cola-energiedrankies te staak nadat ’n toets glo bevind het dit bevat spore van kokaïen.
Die verbod geld sedert Vrydag nadat 0,4 mikrogram kokaïen per liter in toetsmonsters in Noordryn-Wesfale bespeur is.
Duitsland se federale instituut vir risiko-evaluering het vandeesweek gesê die vlakke is te laag om ’n gesondheidsgevaar in te hou.
Red Bull in Duitsland het in ’n verklaring gesê die kokablare wat gebruik word om Red Bull te geur, is onder meer deur die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid veilig verklaar.
Red Bull het self toetse aangevra en geen kokaïen is gevind nie. Die Duitse departement van gesondheid gaan nou self ondersoek instel.
