Sowat 35 000 Suid-Koreane het Sondag na die dorpie Bongha, 450 km van Seoel af, gestroom om eer te betoon aan die ontslape oudpres. Roh Moo-hyun nadat hy Saterdag selfmoord gepleeg het deur van ’n krans naby sy huis te spring.
In Sentraal-Seoel het treurendes ure tougestaan voor die 16de eeuse Deoksoe-paleis om wit blommekranse by ’n tydelike gedenkteken neer te lê, wierook te brand en voor portrette van die 62-jarige leier te buig.
Roh, wat armoede oorkom het om vanaf 2003 ’n volk van sowat 49 miljoen mense te lei, het ’n nota nagelaat waarin hy sy lyding weens korrupsie-aanklagte beskryf en versoek om veras te word.Hy het sy amp 15 maande gelede verlaat.
Roh en sy gesin is aan kruisverhoor onderwerp oor sowat $6 miljoen wat hulle ontvang het van ’n sakeman van Seoel wat met verskeie omkoopskandale verbind word.
Die staatsbegrafnis sal waarskynlik Vrydag ná sewe dae van rou plaasvind.
