Die stryd om politieke beheer van Pretoria se munisipaliteit het begin en die leier van PRAAG, dr. Dan Roodt, het by die Vryheidsfront Plus aangesluit met die doel om saam te werk om in 2011 'n Vryheidsfront Plus-meerderheid in die sogenaamde "Tshwane"-metro te behaal.
"Beheer oor die Pretoriase munisipaliteit is van strategiese belang vir Afrikaneroorlewing in Afrika en Suid-Afrika. Die bestaande Afrikanerdemografie in die stad skep die moontlikheid om deur harde werk en 'n grootskaalse politieke veldtog 'n algehele meerderheid in die volgende munisipale verkiesing te behaal. Al 700 000 Afrikaners in die gebied moet gemobiliseer word om te registreer en te stem," het dr. Roodt gesê.
"Daar kom 'n tyd in die bestaan van elke individu en elke volk dat hy moet kies tussen sy voortbestaan en sy ondergang. Die Afrikaner het nou by daardie punt gekom. Dit is nóú of nooit. Óf ons gaan deur misdaad en regstellende aksie die land uit gedryf word, óf ons gaan hergroepeer en soos een man vir die Vryheidsfront Plus in Pretoria stem."
Dr. Roodt het die DA van middelmatigheid en 'n gebrek aan visie beskuldig. "Helen Zille maak baie lawaai, maar sy beskik oor geen werklike plan om die langtermynhegemonie van die ANC te stuit nie. Dis net 'n kwessie van tyd alvorens die Xhosa-migrasie vanuit die Oos- na die Wes-Kaap die party uit die stoel gaan lig. In Pretoria het die DA die aanvanklike naamsverandering gesteun en het hom as 'n linkse, sosialistiese en multikulturele party geposisioneer wat afsydig teenoor Afrikanerbelange staan."
Hierteenoor beskik die Vryheidsfront Plus oor verbeeldingryke planne om die demografie van Pretoria te stabiliseer en te sorg dat, as die stad eers herower is, dit permanent in Afrikanerbesit sal bly en sodoende op plaaslike vlak selfbeskikking vir die Afrikaner te verseker.
'n Vergadering van PRAAG-intellektuele en -aktiviste is vir aanstaande naweek belê om die organisasie se bydrae tot die stryd om Pretoria te bespreek. Dr. Roodt het ook 'n beroep op alle Afrikaanse organisasies gedoen om hul steun aan die Pretoriaplan toe te sê.
"Ter wille van die oorlewing van die Afrikaner en Afrikaans, is dit absoluut noodsaaklik dat ons die Slag van Pretoria móét en sál wen."
