Die VF Plus-jeugleier, mnr. Cornelius Jansen van Rensburg, het in reaksie op die aanstelling van Dr Pieter Mulder, VF Plus-leier as adjunk-minister van landbou gesê dat Dr Mulder die aanstelling sonder goedkeuring van die party aanvaar het.
Die VF Plus-jeug het hierdie stap ten sterkste veroordeel en dit as`n verbreking van die party se verkiesingsmanifes beskryf.
VF Plus lede en die party se Federale Raad het eers tydens President Zuma se aankondiging Sondagmiddag van hierdie besluit gehoor. Dr Mulder is dus sonder ʼn mandaat van die VF Plus by die regering betrek.
"Dr Mulder kan nie as die party se leier en adjunk-minister in President Zuma se kabinet dien nie. Verder sal die VF Plus nooit `n koalisie met die ANC binnegaan nie," het Jansen van Rensburg gesê.
Die saak sal op 23 Mei tydens ʼn Federale Raadsvergadering van die party bespreek word.
