President Barack Obama gaan nie met sy volgende besoek aan Duitsland saam met Kanselier Merkel afgeneem word nie. Trouens hy gaan nie eers in Berlyn aandoen nie.
Die Amerikaanse president wil eerder besoek bring aan Dresden en Buchenwaldkonsentrasiekamp om sy persoonlike familiegeskiedenis na te vors. Sy besoek aan Duitsland in Junie sal dus geen amptelike besoek wees nie.
Dit het Dinsdag aan die lig gekom dat 'n verkennende span reeds in die voormalige Oos-Duitse stad Dresden aan die Elberivier besig is om moontlike akkomodasie vir die president te soek.
Obama se grootoom, Charlie Payne, het in die 89ste Infanteriedivisie gedurende die Tweede Wêreldoorlog gedien. Hy het glo deelgeneem aan die bevryding van Ohrdruf, 'n satellietkamp van Buchenwald.
Die Duitse regering help tans aan die voorbereidings vir die besoek, wat 'n draai in Normandië in Junie mag insluit.
Kenners meen die ongewone reëlings is 'n verskoning vir die VSA om bande met Duitsland te probeer versterk, sonder om 'n amptelike besoek aan te kondig. Kanselier Merkel het nog nie besoek aan die Withuis gebring nie.
Diplomate beskryf die verhoudinge tussen die VSA en Duitsland op die oomblik as een van "wedersydse strategiese geduld".
