Die arme Meksikane is deesdae ongewild die wêreld oor. Die uitbraak van die H1N1-virus, oftewel varkgriep, in Meksiko, sorg ook dat die toerisme na die land dramaties afgeneem het. In Meksikostad staan 85% van alle hotelkamers tans leeg.
Maar vrees vir die siekte neig soms na die absurde.
In Nieu-Seeland beveel die owerhede aan dat mense met loopneuse en koors self na die naaste hospitaal bestuur en drie maal toeter blaas daar aangeland. Daarna moet hulle in die voertuig wag totdat hulle na die naaste kwarantynkamer vergesel kan word deur 'n dokter of verpleegster. Die raad is afkomstig van die "Griepbeheerprotokol", berig die Nieu-Seeland Herald.
Parys se lughawens het min of meer tot stilstand gekom omdat personeel wat bagasie sorteer weier om tasse van Meksiko en Spanje af te laai. Honderde passasiers is reeds verontrief en vertraag daardeur.
In Chile, in Viña del Mar, is die besoekende sokkerspan van Meksiko soos melaatses behandel. Die besoekers was so ontstig deur die kille onvriendelikheid van hul gashere, dat een speler in weerwraak in sy teenstander se bakkies gaan hoes het om daarna selfvoldaan te verklaar: "Nou ja, ek het jou so pas met varkgriep aangesteek!"
En laastens het Egipte, 'n oorwegend Moslemland, besluit dat varke die vark in die verhaal is. Die Egiptiese owerhede het gelas dat 350 000 varke van kant gemaak word ten spyte daarvan dat die virus van mens tot mens oorgedra word eerder as van vark na mens.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.