’n Woordvoerder van die Mosambiekse polisie, Pedro Cossa, het gister gesê 'n Suid-Afrikaner, ’n Duitser, ’n Portugees en ’n burger van Botswana is betrap toe hulle ’n bytmiddel in die elektriese turbines van die Cahora Bassadam wou gooi.
Hy sê die polisie het op 500 kg van die bytmiddel, wat nog nie geïdentifiseer is nie, beslag gelê. Die name van die aangehoudenes is nie bekend gemaak nie.
Volgens die polisie is die Suid-Afrikaner 21 jaar oud en die Duitser, ’n oudsoldaat, 50 jaar oud. Die Portugese burger is ’n 30-jarige hotelwerker en die burger van Botswana ’n 28-jarige vlieënier.
Hulle word almal in Tete aangehou en sal na verwagting na Maputo geneem word vir verdere ondervraging.
Die Cahora Bassadam in die Zambezirivier, verskaf 1 500 megawatt krag aan Suid-Afrika, sowat 4,2% van die land se verbruik, en voorsien ook krag aan Mosambiek en Malawi.
Die dam is deur die Portugese regering in 1974 gebou en in 2007 aan Mosambiek oorgedra.
