Afrikalande spook om varkgriep uit 'n kontinent te hou wat alreeds swaar gebuk gaan onder Vigs en malaria. Hulle vrees dat 'n uitbraak veel erger gevolge sal inhou as wat in Noord-Amerika en Europa die geval is.
Daar is tans net een aangemelde geval van die griepvirus in Afrika, en mediese personeel het toesig by lughawens en grensposte opgeskerp, maar fondse bly 'n tameletjie. Indien die virus posvat, vrees kenners dat dit 'n katastrofe vir die reeds gebrekkige gesondheidsdienste kan inhou en 'n aansienlike aantal menselewens kan eis.
Zambië se openbare uitsaaier het bekend gemaak dat een geval, 'n reisiger uit Suid-Afrika, in Ndola, geïsoleer is.
Daar is 22 miljoen mense in Afrika suid van die Sahara wat net MIV/VIGS besmet is en hulle verswakte immuunstelsels maak hulle besonder vatbaar vir varkgriep, veral in landelike gebiede wat nie sondermeer toegang tot dienste het nie.
Die winterseisoen het ook aangebreek en selfs gewone griep kan 'n ernstige gevaar inhou in omstandighede waar armoede, 'n gebrek aan toepaslike behuising, voedsel en oorbevolking heers.
Varkgriep het reeds die lewens van 26 mense in Meksiko geëis en 2 in die VSA. Alhoewel relatief min ongevalle in dié lande aangemeld is, kan die virus nog in 'n meer gevaarlike mutasie omsit wat 'n tweede meer dodelike golf van die griep kan beteken.
Die wêreld se aandag is op varkgriep gespits, maar daagliks sterf daar duisende Afrikane aan siektes wat verhoed of behandel kon word. David Sanders, professor aan die universiteit van die Wes-Kaap, meen die reaksie op varkgriep is "oordrewe histeries" en is verbaas dat die 2,5 miljoen swart kinders wat sterf aan diarrhiale siektes nie dieselfde aandag geniet nie.
