Afrikane moet maan toe om te gaan vasstel wat ontwikkelde lande in die buitenste ruim aanvang. So meen Oeganda se president Yoweri Museveni.
"Die Amerikaners was al op die maan. En die Russe. Die Chinese en Indiërs gaan binnekort soontoe. Afrikane is die enigste mense wat op aarde moet sit," het hy gesê aan 'n vergadering van die Uganda Law Society in Entebbe.
"Ons moet ook gaan en sê: 'Wat maak julle mense hier bo?'"
Museveni het die vergadering van top regslui dringend versoek om die integrasie van Oos-Afrika te ondersteun, met die doel om 'n ruimteprogram te ontwikkel. Hy het gesê Oeganda kan nie alleen maan toe gaan nie want hulle is te klein.
Indien Oeganda, Kenia, Tanzanië, Boeroendi en Rwanda egter saamwerk, is die doelwit binne bereik, volgens die president. "Dan kan ons aan die Amerikaners sê: 'Wat maak julle so alleen hier?'"
