FW de Klerk nou bekommerd oor grondhervorming

FW...bekommerd

FW… bekommerd

’n Verslag van die FW de Klerk-stigting, wat gister bekendgestel is, waarsku dat mislukte grondhervormingsprojekte voedselproduksie in Suid-Afrika bedreig.

Die dokument is getiteld Grondhervorming : ’n kontekstuele analise. Volgens die verslag het Suid-Afrika tien jaar gelede landbouprodukte ter waarde van R2,40 uitgevoer vir elke R1,00 van produkte wat ingevoer is. Nou staan dit op R1,40 uitvoere teenoor elke R1,00 wat ingevoer word. Die land kan gevolglik nie onderbenutting of wanbenutting van landbougrond bekostig nie.

Die boodskap agter die versigtige formulering en lomp sinne is duidelik:

“Grondhervormingsprojekte wat misluk, bedreig voedselsekuriteit…’n grondhervormingsbeleid ingevolge waarvan grond pro-aktief deur die regering verkry word en net aan swart Suid-Afrikaners oorhandig word wanneer potensiële boere geïdentifiseer is, kan selfs meer landbougrond buite die sfeer van die kommersiële landbousektor plaas.“

Die verslag meld verder dat volgens Agri-SA 71 landbouhervormingsprojekte in die Limpopo-provinsie reeds misluk het as gevolg van die “onvoldoende ondersteuning“ wat aan opkomende boere verskaf word. In die Wes-Kaap misluk soortgelyke projekte dikwels omdat die “vaardighede“ van die opkomende boere “nie betyds opgegradeer word nie.“

Volgens ’n studie wat deur die Universiteit van Pretoria uitgevoer is met betrekking tot plase wat aan swart boere oorhandig is, is dit duidelik dat produksie in 44% van die gevalle drasties afgeneem het en dat daar op 24% geen produksie hoegenaamd plaasvind nie.

Volgens die FW de Klerk-stigting se verslag is een van die uitdagings waarmee grondhervorming tans te make het die feit dat kennis al belangriker geword het om suksesvol te kan boer. Onervare boere behoort hulp van die staat of mentorskap van bestaande boere te kan geniet. Toegang tot lenings vir nuwe boere is ook belangrik. Die verslag meld verder dat daar ’n “kapasiteitsprobleem“ binne die Department van Landbou en Grondsake bestaan en dat die beamptes van die departement met blanke boere behoort saam te werk. Daar word voorgestel dat bonusse gebied word aan blanke boere wat swart opkomende boere help, maar terselfdertyd meld die verslag dat ”gegewe die huidige politieke klimaat, dit onwaarskynlik is dat so ’n inisiatief positief oorweeg sal word.”

Die verslag meld verder dat die regering behoort te besef dat landbou oor beperkte kapasiteit as katalisator vir sosio-ekonomiese ontwikkeling beskik. Die klem behoort eerder op stedelike hervorming te val.

Die regering beoog om teen 2014 ’n derde van landbougrond in Suid-Afrika in die hande van swart boere te plaas. Net sowat 4% is tot op hede al oorgedra.

Tydens die bekendstelling van die publikasie het Dave Steward van die FW de Klerk-stigting gesê dat grondhervorming “emosioneel en gekompliseerd“ is. “Dit is belangrik dat ons saam daaraan werk – hervorming ’saam met’ in plaas van ’teen’,” het hy opgemerk.

slots noФильчаков прокурор харькова

Maak 'n opvolg-bydrae