Die lees van sy onlangse lofsang op Litnet aan sy surrogaatmoeder, Mamma Winnie, het my met ’n welkome maagpynlekkerkrysessie beloon. Die gedagte aan n bleekwit baba Kareltjie wat aan die bors van Mamma Afrika speen, is een wat my altyd sal bybly.
Carl Niehaus is erg getraumatiseer en ons moet dit nóóit vergeet nie, want hoogverraad het ’n aweregse betekenis vir hom. Sy eertydse comrade en kamermaat wat hom help foto’s neem het van die Brixtonse gasaanleg, was toe al die tyd van Nasionale Intelligensie. Lekker fototjies geneem, jong Kareltjie, en dit was nie vir sy monochroom- industriële fotografieprojek nie; dit was meer bedoel as ’n anargistiese oefening in stedelike terrorisme. Baie stout, die eertydse aspirantpredikantjie, en ek kan my skaars die yskoue gevoel in sy bors indink die oomblik toe hy gearresteer is.
Ek het eens ’n TV-onderhoud met hom gesien en hy lyk vir my na die tipe wat maklik huil. En ek bedoel nou nie uit egte hartseer nie, maar eerder op die ingewing van die oomblik, byvoorbeeld wanneer dit die dramatiese effek van die boodskap kan vergroot, soos die regte musiek op die regte oomblik in ’n liefdesverhaal. En soos ’n tienerseun se onvanpaste liefdesbriefie aan sy hoërskoolonderwyseres, klink sy lofsang aan mamma ook. Hy sing sy woorde teen haar vas, hy bring sy hele lewe in ’n tas.
Maar ek moet toegee, hy het ten minste sy integriteit deur die jare behou. Hy staan by wat hy glo, anders as daardie amateurstoeispannetjie van die Broederbond by KODESA in die vorm van Roelf Meyer en FW de Klerk wat so maklik omgerol en vir die ANC pensie gewys het.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.