Ouma en oupa Cheney
Mary, die lesbiese dogter van die Amerikaanse vise-president Dick Cheney, het Woensdag ‘n seun ryker geword. Hy sal Samuel David Cheney heet.
Die baba het 3,8kg by geboorte geweeg en is die sesde kleinkind van die vise-president. Sy kantoor het ‘n foto van die vrolike ouma, Lynne Cheney, wat die baba vashou en haar glimlaggende man vrygestel. Altwee lyk hoog in hul noppies met die nuweling.
Dat ‘n groot deel van die Bush-regering se steeds krimpende steun uit die sogenaamde konserwatiewe Bybelgordel kom wat tradisionele waardes verdedig, het blykbaar nog nie enige werklike lastigheid vir Cheney of sy dogter veroorsaak nie.
Die manier waarop die baba verwek is, is nie bekend nie en die betrokke partye swyg in alle tale. Mary Cheney is 38 jaar oud en leef saam met haar vriendin Heather Poe, 45, ‘n eertydse natuurbewaarder. Hulle het mekaar ontmoet terwyl albei yshokkie gespeel het en in 2005 saam opgedaag by ‘n Withuis-dinee ter ere van prins Charles en Camilla.
Dit terwyl Bush aanhou om in die openbaar te verklaar dat die huwelik ‘n binding tussen man en vrou is, homoseksuele egverbintenisse verwerp en weier om wetgewing aan te pas in die verband.
Cheney self wys enige kritiek op sy dogter af deur te sê dat "vryheid vryheid vir almal is". Hy het tot dusver goed daarin geslaag om die kwessie aan geen polemiek te onderwerp nie. Mary word beskou as een van sy grootste raadgewers en was ten nouste betrokke by sy herverkiesingsveldtog in 2004.
Terwyl die Amerikaanse weermag sukkel om genoeg nuwe innames te registreer om hul militêre betrokkenheid in Irak, Afghanistan en elders vol te hou, het nie een van Cheney se kinders aangemeld vir diens nie. Cheney word nietemin as een van die prominente valke in die huidige administrasie uitgesonder.
Hy het ook reeds skerp kritiek verduur agv van sy eertydse voorsitterskap van Halliburton en in weerwil van sy verklaring dat hy geen bande met die maatskappy meer het nie, het joernaliste vasgestel dat hy steeds aandele hou. Die waarde daarvan het intussen met 3 281 persent toegeneem.
Die maatskappy het ook onlangs aankondig dat die hoofkantoor na die Midde-Ooste verskuif gaan word. Halliburton het uiters lukratiewe kontrakte met die oorlogsverklaring teen Irak losgeslaan.
Vanweë die feit dat Republikeinse wetgewing nie huwelike tussen dieselfde geslag erken nie, is dit nog nie duidelik of die nuwe aankomeling binne of buite die eg gebore is nie.
free bonus no deposit requiredданильченко юрій броніславович