In die uitspraak wat Dinsdag gemaak is, het die uitsaaiklagtekommissie een klagte van ‘n persoon van die hand gewys dat Radio OFM gespot het met ‘n persoon wat sielsiek is deur die onderhoud uit te saai.
Nog ‘n klaer, net bekend as R. Thirtle, het die onderhoudvoerder Rian van Heerden aangetree oor hy klaarblyklik ‘n grap wou maak van iets wat ‘n baie werklike fenomeen is.
“Dit is ‘n feit dat die gees Incubus mense saans verkrag,” het Thirtle gesê.
“En dit is veral algemeen onder die swart mense…wat die tradisionele geloof van aanbidding van voorvadergeeste volg. Maar meer algemeen onder swart vroue, wat deur die tokolosie verkrag word in die aande.”
“Dit is nie ‘n storie nie, dis ‘n feit, en daar is duisende getuies wat dit kan bevestig. Dit is ‘n baie traumatiese ervaring om in die donker verkrag te word deur ‘n swaar ding wat op jou bene sit, waaroor jy geen beheer het nie.”
“En om te weet dit is ‘n demoon wat dit doen maak dit soveel erger.”
Die kommissie het gesê hulle het ‘n totaal van vier klagtes ontvang oor die uitsending, wat net voor 5 uur die middag van 18 Maart uitgesaai is.
Die klaers het beweer die onderhoud was nie geskik vir kinders nie, en is uitgesaai op ‘n tyd wat baie kinders na verwagting kan luister.
Die kommissie het egter bevind dat die teikengehoor van die stasie nie kinders was nie, dat die kinders wat dit wel gehor het waarskynlik niks sou verstaan nie, en dat dit geen obsene offensiewe taal bevat het nie.
Die stasie het ook herhaaldelik waarskuwings uitgesaai vooraf dat luisteraars die onderhoud aanstootlik mag vind.
OFM het Van Heerden vir twee dae geskors na die uitsending.
